NUWE SWAM NA CUDDLES GENOEM
’n Tien jaar oue Pretoriase worshond genaamd Cuddles het die eer te beurt geval dat ’n nuut beskryfde Penicillium-spesie na haar genoem is.
Penicillium cuddlyae is genoem na Cuddles, wie se mens-ma, dr. Isabel Rong, bestuurder is van die Landbounavorsingsraad (LNR) se navorsingspan vir biosistematiek, gesetel op die LNR-kampus vir plantbeskerming.
Rong het Cuddles sowat twee jaargelede deur die Dachshund-reddingsklub aangeneem toe haar eienaars geëmigreer het.
Met dié dat die nuwe swamspesie in Cuddles se kos gevind is, het prof. Cobus M. Visagie, voormalige lid van Rong se span en amptelike beskrywer van die nuwe spesie, besluit om dit na Cuddles te noem.
Die feit dat worshonde een van Visagie en sy vrou, dr. Neriman Yilmaz, se gunstelinghonderasse is, het natuurlik tot sy besluit bygedra. “Toe ons drie jaar lank in Ottowa, Kanada, gewoon het, was die jaarlikse sogenoemde Worsfees vir ons ’n hoogtepunt, veral die parade waartydens sowat 50 deftiggeklede worshonde saam met hul eienaars deur die strate geloop het.”
Die nuwe swamspesie is in Februarie verlede jaar geïdentifiseer en is in Desember 2019 formeel beskryf.
Visagie, ’n mikoloog wat in diversiteit belang stel en altyd na nuwe spesies soek, is intussen aangestel as medeprofessor by FABI, die instituut vir bosbou-en-landboubiotegnologie aan die Universiteit van Pretoria.
“Ek spesialiseer in die taksonomie van Aspergillus, Penicillium, Talaromyces en talle ander swamme wat oral voorkom, maar baie algemeen binne geboue en op of in landbouprodukte en voedsel is. Baie spesies produseer toksiene wat mense en diere benadeel wanneer dit teen ’n sekere drempelwaarde ingeneem word.
“Die onlangse probleme wat ’n hondekosprodusent ondervind het met Aspergillus flavus, ’n aflatoksienproduseerder, is ’n voorbeeld van wat kan gebeur as die toestande waaronder kos opgeberg word, nie reg bestuur word nie.”
Na aanleiding van dié voorval het Visagie kollegas gevra om vir hom monsters van hondekos te bring wanneer hulle nuwe pakke oopmaak. Hy het veral belang gestel in xerofiele spesies, wat net op substrate met lae wateraktiwiteit groei (tipies baie droog of met hoë konsentrasies suiker of sout).
“Van die hondekoskorrels is op groeimedia met lae wateraktiwiteit geplaas en die petribakkies is in ’n toe houer geïnkubeer om humiditeit te verhoog. Só het ons ’n taamlike hoeveelheid verskillende spesies geïsoleer, onder meer die Penicillium cuddlyae,” verduidelik Visagie.
Volgens Rong moet die reëls in die International Code of Nomenclature for Algae, Fungi, and Plants gevolg word wanneer ’n nuwe spesie beskryf en benoem word.
Die beskrywer kies die naam en dit moet uniek en gekoppel wees aan ’n unieke stam. Omdat name in Latyn vertaal word, het Cuddles cuddlyae geword.
Penicillium cuddlyae is een van twee nuwe spesies wat onlangs gevind is deur die LNR se mikologiese diagnostiese dienste, wat deel is van Rong se span. In die 2019’ 20 boekjaar het die afdeling meer as 400 monsters van 62 kliënte ontvang om te verwerk.
Artikel: CARIEN KRUGER
Landbouweekblad, 6 Augustus 2020